Tag: Suid Afrikaanse Bankbase
Suid Afrikaanse Bankbase vir miljoene gedagvaar
Mnr. Piet Liebenberg, voorheen voorsitter van Die Sakebank en mnr. Willem Boshoff, voorheen uitvoerende hoof van die bank, is die afgelope week in twee hofgedinge weens die beweerde bedrieglike of roekelose hantering van sake by Die Sakebank gedagvaar.
Die eise deur twee PSG-filiale, Axiam en Capitec, bedra R147 miljoen plus rente.
Verdere dagvaardings teen bekende sakelui, wat ook na bewering betrokke was, word nog voorberei.
Liebenberg en Boshoff het Die Sakebank op die been gebring met die slagspreuk “goeie etiek is goeie sake”.
Toe die bank in 1998 genoteer is, was daar ‘n stormloop om sy aandele te bekom, glo vanweë Liebenberg se groot aansien onder beleggers.
Liebenberg is ook ‘n bekende in kerkkringe en het in 1999 op die nasionale kerkeberaad gesê sakeleiers het “Bill Clintons” geword deur weg te draai van die basiese waardes van die Bybel .
Die Sakebank het vir die jaar tot einde Maart 1999 ‘n wins van R45 miljoen getoon met aandeelhouersgeld van R474 miljoen.
Die PSG-groep het Die Sakebank in 2000 oorgeneem. Kort daarná is bevind dat die sake van Die Sakebank “chaoties” was. Pleks daarvan dat die verwagte netto batewaarde R150 miljoen bedra het, was die maatskappy niks werd nie.
Die aandeelprys was in dié stadium 5c teenoor sy hoogtepunt van R17,00.
Mnr. Alec Erwin, minister van handel en nywerheid, het mnre. Mervyn King en Harvey Wainer verlede jaar opdrag gegee om ondersoek in te stel na verskeie moontlike ongerymdhede by Die Sakebank wat tot sy mislukking kon gelei het. Destyds is gesê daar sal na die finansiering van aandele-opsies vir direkteure en Die Sakebank se betrokkenheid by die mislukte Macmed gekyk word. Ander mense wat destyds in verband met die ondersoek genoem is, sluit in mnr. Desmond Smith, gewese uitvoerende hoof van Sanlam en waarnemende voorsitter van Die Sakebank se ouditkomitee, asook ‘n lid van sy vergoedingskomitee, en dr. Malesela Motlatla en mnr. Leonard Fine, albei lede van die oudit- en vergoedingskomitee.
‘n Verslag is voltooi, maar dit is nog nie bekend gemaak nie.
Die Sakebank is sedert 1998 tot TBBH, Axiam en toe Capitec Bank herdoop.
In die eerste saak teen Liebenberg en Boshoff beweer Axiam dat Liebenberg en Boshoff in 1998 en 1999 hul pligte wederregtelik verontagsaam het deur lenings van R60 miljoen aan mnr. Jan Louw toe te staan. Die lenings is na bewering nie terugbetaal nie.
Louw was die stigter en baas van ProEquity, ‘n batebestuurder, wat betrokke was by die aanvanklike mislukte hotelprojek by Oudekraal in die Kaap.
Die Sakebank het ProEquity oorgeneem en Louw het ‘n direkteur van Die Sakebank geword. Sedertdien is ‘n vonnis van R160 miljoen teen Louw verkry.
In die tweede saak beweer Capitec dat Liebenberg en Boshoff, as direkteure van Capitec Bank, in 1999 bedrieglik of roekeloos opgetree het deurdat hulle toegelaat het dat sekere aandele as sekuriteit vir ‘n gerief van R50 miljoen van Absa Bank dien, wetende dat dié aandele onderhewig was aan ‘n ooreenkoms wat dit verbied.
Capitec beweer dat mnr. Richard Foyn, ‘n direkteur van Capitec Bank, die gerief met Absa beding en die aandele aan Absa oorgedra het. Foyn is ook ‘n verweerder in die tweede saak.
Voordat hy Die Sakebank gestig het, het Liebenberg verskeie poste in die bankwese beklee.
cvonkeys@naspers.com
http://www.rapport.co.za/XArchive/Sake-Rapport/Bankbase-vir-miljoene-gedagvaar-20021019